Voor Die Stormloop

Glo dit of nie, hierdie is ’n storie oor wyn.

 As jy in die vroeë 1800’s deur die Witwatersrand gery het sou jy nie veel van dit gedink het nie. En as jy die winter gekies het om dit te doen sou jy nóg minder gedink het. Daar is nie baie natuurskoon nie en die bietjie wat daar is, is bedek in daai kleur waarvoor net Afrikaans ’n woord het: vaal. Vaal gras en rooi grond. Op eerste oogopslag lyk dit nie soos die land van melk en heuning waarvoor jy gehoop het nie. Jy kyk vir Sarie op die ossewa en wonder of julle nie eerder moet teruggaan Kaap toe nie, maar jy stap aan want dis moer vêr terug. Min wetend van die rykdom wat in die are van aarde hier onder jou loop…

 Dit was toe jy nog ’n jong man was, ’n goeie tien jaar gelede, voordat jy die gemiddelde lewensverwagting van ’n man in Afrika in die 1800’s bereik het. Jy het gelewe in jou veertig jaar en nou dat dit tyd is om te gaan het jy nie veel om te berou nie, maar as jy weer kon, sou jy jou pik bietjie dieper in daai grond wou slaan. Tog weet jy dat tyd ongelukkig nie so werk nie, en al waarvoor jy nou kan hoop is dat jou nageslag nie mielies bo-op ’n goudmyn sal boer nie.

 

 Dis die vroeë 2000’s (lees: twintig-honderd’s) en daar is nie veel oor van die Witwatersrandrif nie. Hy het die land op sy voete gebring, maar deesdae myn hulle al die mynhope – iets wat baie gelykhede trek met die episode van Ultimate Survival waar Bear Grylls die metaboliese produk van sy eie niere drink. Die land kort ’n nuwe dryfkrag, en ons ken net die plek. ’n Plek wat baie gelykhede trek met ’n jonger Witwatersrand. 

 Die Swartland is ook nie noodwendig mooi nie. Die algehele vaalheid en geleidelike rol van die landskap bied dalk ’n bekendheid en nostalgie aan mense wat met dit groot geword het en wat dalk vir ‘mooi’ misgis kan word, maar dis nie enige iets waarvoor jy jou handbriek sal op trek nie. Inteendeel, as jy ’n Sarie langs jou in die kar het sal sy dalk vir jou vra of julle nie eerder moet teruggaan Kaap toe nie, maar jy het hierdie artikel tot die einde gelees so jy weet die antwoord is nee. Want jy weet van die rykdom in die grond waarop jy staan, en jy het al stories gehoor van die goud in hierdie aarde en van die wynmakers wat delwers geword het.

 Hoofstuk 1: Die Voorwedstryd

 Die storie begin op 11 Oktober op ’n sypaadjie in die oggendkoelte van die akkerbome van Stellenbos, met ’n R19 ontbyt en ’n R35 koffie. Die atmosfeer was vrolik, tog soos ’n kolwer wat nou net teen die kop raak geboul is, was ons effens tentatief en op die agtervoet. Dis dalk al twee jaar gelede, maar herinneringe van die ineenstorting in ons tweede kolfbeurt op die vorige toer was nog vars in die geheue, en ons was vasberaad om dit nie te herhaal nie.

 So eerste aan die beurt was Kleine Zalze, die huis van Chenin. Die Barrel Boys Wynklub was nog altyd groot ondersteuners van díe kultivar, nes ons natuurlik groot ondersteuners van die Bokke is. Tog, nes met die nasionale rugbyspan, doen ons dit nie blindelings nie. Daar is altyd ruimte vir opbouende kritiek en ’n eerlike opinie, al is ons opinies meestal net weergawes van Nick Mallet s’n. Maar daar is ’n tyd vir alles, en wanneer die fluitjie Saterdag blaas is ons een honderd persent hart.

 Dis met daardie gevoel wat ons by hulle in gedraf het, en hulle het nie teleurgestel nie. Alhoewel dit nie vir die rede is wat jy sal dink nie. Hulle Chenins is goed, maar ons hoef dit nie vir jou te sê nie. Meeste van hulle is ook redelik bekostigbaar so jy kan een of twee of drie koop en hulle op jou eie tyd proe. Ons is nie hier om jou te vertel wat jy alklaar weet nie, dis ’n LO onderwyser se werk. Ons is hier om jou te vertel hoe hulle rooiwyne ons omkant gevang het. Dit was ’n ambush, en ons het skaars opgestaan na die groot Cab Sav se uppercut, toe die Merlot ons wind uit slaan en emosies laat voel wat ons nog nooit oor ’n Merlot gevoel het nie. Goeie emosies.

 Dit het ons oog weer ingekry, want toe ons daar uitstap was alles op die voorvoet. Dis hierdie momentum wat die Europcar Barrel Boys se wiele aan die rol gekry het na die volgende plaas: Van een waar die rooi ons beïndruk het, na een wat basies ’n alleenmandaat op daai frekwensie in die kleurspektrum het. Ons volgende stop was by Kanonkop.

 Ons het ons bes probeer om ons monde nie te lank te laat oophang nie, maar hulle het ons veld-uit geslaan met hulle geskiedenis, hulle tradisie en hulle oënskynlik onophoudelike hoë vlak van gehalte. Weereens vertel ons jou dalk nie iets wat jy nie weet nie. Jy het geweet hulle is goed, en ons het geweet hulle is goed, maar ons het nie geweet hulle is só goed nie. Die wynmaker sal jou miskien ander stories vertel, maar in essensie is hulle besig om Krugerrande te botteleer. En jy kan hulle wyne dienooreenkomstig hanteer. Dit beteken jy koop hom nou sodat jou kinders oor 15 jaar oor hom kan baklei. Of koop ’n kas van 10 van die Pinotage en drink een bottel ’n jaar en kyk wat ’n dekade aan ’n wyn kan doen wat twee kan hanteer, en dit sal wees soos om ’n jong Tiger Woods se loopbaan van vooraf te volg, of die wêreld ekonomie in die 90’s.

 Dis hierso waar die eerste dag se wynproe vir alle akademiese redes geëindig het. Ons was nog Simonsig toe en ons sal dalk eendag teruggaan om ’n meer kritiese waardeering van hulle wyne te doen, maar in daai oomblik wou ons dit net geniet. Om wyn te drink vir die rede wat dit gemaak is: Op ’n Vrydagmiddag op ’n plaas buite Stellenbos, vêr verwyderd van Johannesburg se verkeer en ander mense se emails, terwyl die son al nader aan die horison beweeg maar tyd klaarblyklik stilstaan.

 Hoofstuk 2: Die Headliner

 Daar is min dinge so Suid-Afrikaans soos ’n sinkplaat grondpad, ’n warm son en ’n sukkelende krieketspan, en toe ons opstaan die volgende oggend het ons die trifecta gekry. Die onaanloklike besigheid op SuperSport 2 het ons vinnig genoeg in die pad gekry en kort voor lank het ons ’n afgedraai gevat op ’n ongeteërde pad wat net-net ongelyk genoeg is om as ’n toetsgehalte blad in Indië te kwalifiseer. Wat heel gepas is, want deur die loop van die dag was elkeen van die 11 teenwoordige Barrel Boys stelselmatig uitgeboul.

 Daardie grondpad het ons gevat na die hart van die Swartland, na die onopvallende wynlandgoed van Sadie Familiewyne. Sadie is ’n wêreldklas wynplaas in dieselfde manier wat Richie McCaw ’n wêreldklas flank is. As jy hom van vêr af sien sal jy dit dalk nie glo nie en hy’s te nederig om dit self vir jou te sê of ’n sticker op sy voorkop te plak, maar enige iemand wat die naam ken sal weet hoekom hy regoor die wêreld gebruik word.

 Vir die wat nog nie ingewy is nie, daar’s twee Swartlande. Die een wat jy ken en kan sien is die een met eindelose koringvelde en massa produksie wingerde, maar daar is ook ’n ander Swartland. Een gebore uit hoop en die geloof dat daar meer in daai grond is as wat mense dit gun. En dis die storie wat hulle wyn vertel. Mens kry twee tipe kunstenaars, die eerste spandeer hulle energie en aandag om iets te maak wat aan die meerderheid van mense se begeertes voldoen, om ’n generiese en vergeetbare produk te skep. Gaan kyk maar na enige NOW! album en kies enige van die kunstenaars agterop as ’n voorbeeld. Maar, elke nou en dan kry ’n generasie iemand wat hulle tyd gebruik om iets heeltemaal anders te skep as dit waaraan mense gewoond is, net om ons te laat besef dat dit is wat ons nog al die tyd soek. Sadie val in hierdie tweede klas, saam met die res van die SIP, die Swartland Independent Producers. Ons noem hulle maar die Red Hot Chili Peppers van Suid-Afrikaanse wyn.

 Die SIP is ‘n vereniging van wynmakers wat die Swartland Revolusie gelei het, maar ons sal nie te lywig wees nie, want daar is baie artikels op die internet te lees oor dié onderwerp, geskryf deur mense baie beter gekwalifiseer as die uwe. Wat ons jou wel kan vertel is dat wyn vir jou nooit weer dieselfde sal wees na dit nie. Hulle wyn word minder ‘gemaak’ en is meer van ’n ekstraksie. ’n Ontgunning. Hulle haal uit en wys vir jou dit wat nog altyd daar was, in die grond, in die wind en die weer, en in die druif. Hulle probeer nie ’n Bordeaux of ’n Rhône of ’n Stellenbos wyn maak nie. Hulle vertel vir jou van die Swartland met kultivars wat tuis voel in daai vaal, warm en geleidelike rollende landskap.

 Ons het die voorreg gehad om daai storie te hoor in Sadie se eie proe-lokaal, wat op die ander 30 dae van die maand gebruik word as ’n loft/kantoor/personeel-kombuis. Ons was op ’n lang tafel aan die einde van die vertrek. Op een van die lessenaars tussen ons en die deur is daar ’n Star Trooper helmet bo-op ’n hoop papiere, en langs ons op ’n toonbank is ’n verskeidenheid van 3 verskillende koffiemasjiene. Daar is definitief bewyse dat hier gewerk word, maar die mees ooglopende bewys was om ons. ’n Kabinet teen drie mure van grond tot plafon gepak met leë wynbottels wat toe hulle vol was waarskynlik ’n goeie deposito op ’n huis sou wees. Hulle het vir ons een van elke bottel in hulle reeks oopgemaak en, in die Swartland manier, die rooies eerste geskink. Om te sê die wyn is goed is nie die regte woord nie. Hulle is geskiedkundig. Tog, ten spyte van die skaarsheid van dit waarmee ons besig was, is die atmosfeer nooit styf nie. In die Swartland voel dit altyd asof jy by ’n vriend se huis wyn drink.

 Dis hoekom ons net ’n klein beitjie jammer was toe ons moes loop (let wel die gebruik van die woord ‘moes’, want dit was definitief nie willekeurig nie). Ook gedeeltelik omdat jy nie weet wanneer jy weer daardie wyne gaan sien nie. Gelukkig het ons volgende gasheer en gasvrou ons nie te veel tyd gegee om oor sulke sake te rou nie.

 Ons laaste stop was ’n kuier saam met die wyne van David & Nadia, by die twee-weeklikse Swartland Street Market in Malmesbury. Ons sê ‘kuier’, want ‘tasting’ is nie die regte woord in hierdie deel van die land nie. Hierso word die wyn nie met ’n pipet uitgedeel nie en die bottels bly op die tafel totdat hulle leeg is, of dalk is dit net hoe ons dit geïnterpreteer het. Inelkgeval, dit het goed vir beide partye uitgewerk. Die wynwinkel op die perseel het ’n goeie omset gemaak, en ons kon ons toer eindig op ’n plek waar niks anders bestaan nie. Op ’n grasperk op ’n vierkant in die middel van die Swartland, met ’n konstante toever van van die beste goud wat hierdie wingerde uit die grond kon trek, musiek in die agtergrond en ’n paar kaste van Bill & Co. se bestes op hulle pad noord sodat ons presies dieselfde een van hierdie dae in die Witwatersrand kan doen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s