Rosé: ‘n Verlore Liefde

Die lente maak almal bietjie simpel. Wetenskaplikes reken dat die seisoenale toename in temperatuur ’n perifere vasodilatasie veroorsaak wat net genoeg bloed van jou brein af steel om jou effens hipoksies te laat. Dis hierdie suurstofnood wat volwasse mans sonder kouse laat werk toe gaan. Die ischemie wat volg het baie dieselfde effek as twee tot drie light biere en laat jou motorfunksie grootliks intak, maar los jou net-net kwesbaar genoeg om na jou ex te begin verlang of dalk selfs ’n vierde bier te drink. Vir die Barrel Boys was dit egter die eersgenoemde.

Almal het ’n eerste liefde. Party mense is geseën met ’n voortreflike, ingebore, oordeel en vir hulle word dit ’n enigste liefde, maar meeste van ons leer die liefde ken soos jy ’n koffietafel in die donker leer ken. Die Barrel Boys se oordeel is ongelukkig ook slegs deur ervaring opgebou en ons het al baie liefdes gehad oor die jare, of eerder oor die jare al hoe nader gekom aan liefde. Deesdae spandeer ons tyd saam met Chardonnay en Chenin Blanc en geniet die geselskap van Pinot Noir, maar daar was ’n tyd dat ons tevrede was met liefde as ’n lighoofdigheid in jou denkwyse en ’n skoenlapper in jou maag. Daar was ’n tyd dat ons gebloos het as Rosé vir ons ’n oog knip.

Daardie tyd is dalk jare gelede, maar dit is weer daai tyd van die jaar en soos die gedagte van jakarandas in Pretoria se strate begin bloei het die seisoenale nostalgie ons teruggevat na eenvoudiger dae – dae toe die Melktertkomissie nog op MK was, mense nog op MXit en moontlikhede in ’n 1.5L bokswyn. Hierdie nostalgie het ons laat een Donderdagaand op ons contact list tot by Rosé se nommer gevat…

Dit was goed om haar na al die jare weer te sien, maar dit was anders. Op eerste oogopslag voel jy weer verlief, en onthou warm dae in Aardklop se wyntent, jou Camelback in 2011 se Jool-optog en ander dae wat die volgende oggend reeds vergete was. Jy dink selfs vir ’n oomblik dat sy by jou nuwe lewe sal kan inskakel. Jy sien laatmiddae met kreef op ’n stoep in Hermanus. Jy voel die bosveldson op jou voorarm en ’n koue glas bloos in jou hand. Maar die emosie is net tydelik. Soos die geselskap moeiliker raak om aan die gang te hou besef julle dalk beide hoekom julle paaie geskei het, en wanneer jy die volgende oggend soos elke een tevore werk toe ry besef jy dat die verlede dalk so lank terug is omdat dit lyk baie aantrekliker van vêr af lyk.

Hier is egter 10 Rosé’s wie jy gerus vir ’n paar glase kan in nooi wanneer julle paaie weer kruis:

10. Saronsberg Shiraz Rosé

9. Boplaas Rosé

8. Du Toitskloof Pinotage Rosé

7. Hermanuspietersfontein Bloos

6. Laibach The Ladybird Rosé

5. Mulderbsoch Rosé

4. Cederberg Rosé

3. Diemersfontein Rosé

2. Diemersdal Rosé

1. Kanonkop Kadette Pinotage Rosé

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s