Pino ‘t ge-age

Pinotage was nie altyd só gewild nie, veral nie buite ons land se grense nie. ’n Groep Britse Wynmeesters op besoek in die 70’s het die wyn as “walglik” beskryf, en vergelyk met die reuk van geroeste staal en industriële verf-verwyderaar. Dis veertig jaar later en daar is ’n nuwe generasie Pino’s wat iets te sê het daaroor, ’n boodskap wat Kagiso Rabada sommer persoonlik gaan aflewer het.

Deesdae beskryf wynkenners die Pino’ met bietjie meer lof. Hulle sal sê dis ’n goeie barbeque wine, alhoewel ons sal sê hy’s nog beter saam met ’n braai. Hulle sal sê daar’s geure van swart en rooi vrugte soos blackberries en raspberries; ons sal sê hy word ingekleur met braambessies en frambose. Hulle sal sê daar’s ondertone van ’n tee waarvan hulle al gehoor het, “rhooibosch”; ons sal sê hy herinner jou aan vroeë wintersoggende in jou ouma se kombuis. En hulle sal sê daar is ’n smokiness op die neus, alhoewel ons weet dis die reuk van ’n N4 veldbrand wat deur jou kar se lugverkoeler trek, terwyl Toto se Africa saggies op die radio begin speel en die laatmiddag son wat agter jou sak jou skaduwee vorentoe oor die wildtuin se horison strooi.

Daar is baie wat ons nog kan sê, maar hierdie Pino’s kan vir hulself praat:

8. Beaumont Pinotage 2015

‘n Droë wyn, genoeg soos ‘n Kalahari grondpad om ‘n nuwe Zinkplaat album te inspireer. 

7. Doran Vineyards 2013

Die tipe wyn wat sy hemp in steek as hy gaan dans, en sy hand nie té laag op sy dame se laerug laat rus nie. Netjies en ordentelik, en sal jou nooit teleur stel nie. 

6. Fat Bastard Pinotage

‘n Gebalanseerde Pinotage, met trekke van Shiraz wat goed sal gaan saam met enige rooivleis mits dit oor ‘n sekelbosvuur gebraai is.  

5. Flagstone Writer’s Block

In retrospek heel moontlik die wyn wat  die uwe skrywer gedoem het om twee weke langer as gewoonlik aan hierdie blog te spandeer, maar nie omdat dit ‘n slegte wyn is nie. In hoër dosisse is dit wel ook genesend. 

4. Earth’s Essence

‘n Wyn wat deur enige entoesias geproe móét word. Met sterk trekke van rooibostee kan hierdie wyn dalk ‘underwhelming’ wees saam met die hoofgereg, maar is interessant en meer as goed genoeg om vir baie genot en geselskap te sorg as ‘n appetiser.

3. Diemersfontein Pinotage

Die oorspronklike koffie Pinotage is nog steeds die enigste een in ons harte. ‘n Wyn veelsydig genoeg om jou nefies van Vanderbijl én jou kollega van Constantia te beïndruk.

2. Southern Right Pinotage

Soos ‘n goeie losskakel is hierdie wyn genoeg van ‘n ‘fruitcake’ met flair om die skare te beïndruk, maar het ook genoeg ‘muscle’ om die opponente bang te maak. 

1. Beyerskloof Diesel

Toe Professor Abraham Perold in 1925 Pinot Noir saam met Cinsaut (Hermitage) laat lê het, is hierdie presies waaroor hy gedroom het. Een van díe beste wyne wat al deur ons hande gegaan het, en om ‘n bottel oop te maak is soos om vir die eerste keer verlief te wees. 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s