Wynologie

Okay ja, die regte woord is ‘oënologie’, maar min mense anders as ’n oënoloog weet wat dit is en net ’n ornitoloog weet dat dit níe die studie van voëls is nie. En ons wil die aandag hou op wat belangrik is, want alhoewel meeste ouens weet hoe om ’n vuur aan die gang te kry gaan hy jou snaaks uitkyk as jy hom vra om ’n pakkie charcoal te oksideer. So kom ons gesels oor wyn en die studie daarvan. Alhoewel mens moet onthou, soos enige kollega wat onlangs by ’n musiek/yoga-fees was ook vir jou sal sê, dat jy nie die musiek kan geniet as jy te veel op die proses konsentreer nie. So met baie dinge in die lewe en so ook met wyn.

Nou hoekom moet jy dan verder lees, vra jy. Wel, mens kan net soveel oor ’n kunstenaar leer deur die album te luister en die voubiljet binne die CD cover te lees. Ons besef daai analogie is op ’n ventilator in intensiewe sorg, maar dis al hoe meer rede om hom te gebruik, terwyl ons nog kan. Verder, is die vertoning nie beter as jy die lirieke ken nie? En nog meer, die hoofsanger se autobiografie gelees het nie? Natuurlik kan selfs nie eers dít ons by ‘n Nickelback konsert kry nie, maar dit gee jou konteks. Sodat jy met tyd en oefening kan leer om jou Bon Iver’s van jou Bon Jovi’s te onderskei en wanneer om wie te speel.

Maar selfs met die regte musiek op die regte tyd is dinge nie heeltemaal reg totdat jou skoonpa of jou meisie, vir wie jy onderskeidelik Bon Jovi en Bon Iver sal speel natuurlik, iets in die hand het om jou grappies snaakser te laat klink nie. Vir daardie doel sal snaakser grappies seker ook werk, maar as jy groot wild gaan jag sit jy nie net een patroon in die loop nie. En streng gesproke het jy ook ’n professionele gids aan jou sy, maar dit is onwaarskynlik dat jy in hierdie situasie jou koshuiskamermaat, Jaco, langs jou gaan hê om jou soos die volgende Bond te laat lyk. Daarom vat jy ’n groot geweer.

Of ten minste een wat jy ken. Want uit ons ervaring kan die wynmaker se tasting notes wat jy tussen al die dubbelgoud stickers moet lees jou dalk soos ’n kenner laat klink as jy hulle voor die tyd opgeswot het, maar dit kan nie vir jou sê of jy van die wyn gaan hou nie. En soos almal weet is dit baie makliker om vir jou span te skree as jy hulle op Superbru ook geback het. So sê ons nou vir jou dat expert opinion, wine ratings en hulle pryse blote onbenullighede is? Nie heeltemaal nie. Wat ons wel wil beklemtoon is dat jy jou eie intuïsie ook mag vertrou, of soos ’n Pinterest blogger op ’n verweerde en opgevrommelde servet sal sê, “Believe in yourself.”

So, prakties gestel, wat moet jy maak van al die eksterne faktore wat jou wil beïnvloed as jy voor die wynrak staan opsoek na ’n bottel wat skoonmoeks se asem sal wegslaan, en nee, nie vir ewig nie. Ons gaan nie in die strik trap om daai grap te maak nie. Ons sal dit los vir best-man-speeches en deeltydse stand-up comedians, wat seker dieselfde ding is. Maar terug by die wyn: Wat maak jy? Wel, liewe leser, sal ons nie almal graag die goue antwoord op daai vraag wil hê nie? As jy hierdie lees kan ons aflei dat jy, met jou belangstelling in alkohol, al ouer as 18 is en nog meer, met jou belangstelling in wyn ten minste 3 tot 4 jaar se volwassenheid bo-op dit het. So teen hierdie tyd het jy seker al besef dat die lewe nie ’n matriek wiskunde vraestel is nie, want alhoewel meeste van ons ons koppe sit en krap oor dit, is daar nie net een regte antwoord nie.

Of dalk, soos in daai matriekeksamenlokaal, is ons net nie instaat om dit te sien nie. Uit ons onkunde het ons tog ’n paar basiese beginsels geïdentifiseer wat ons, en mense soos ons, kan help om ten minste ’n paar punte vir ons berekening te kry. Kom ons begin by die eerste punt, die wynmaker se tasting notes. Laat ons hier die analogie van jou meisie, wie natuurlik die mooiste meisie in die wêreld is, gebruik. Jy het die eerste keer toe jy haar gesien het besef dat jy van haar hou. Nie eers nadat jy die individuele komponente van haar voorkoms en haar persoonlikheid ontleed het nie. En wanneer sy vir jou vra hoekom, sê jy iets wat haar uniek maak, soos die klein skrefies langs haar oë wanneer sy régtig lag of hoe haar neus soos ’n klein marshmallow lyk wat in warm water sal smelt. Jy skryf dit nie neer aan die verhouding tussen haar neus en haar ore of die hoek van haar wangbene nie, en as jy doen kan jy jouself in groot moeilikheid in praat. So ook met wyn. Tasting notes is ’n taal wat jou toelaat om ’n idee te kry of jy van die wyn gaan hou, nie die rede hoekom jy die wyn drink nie.

’n Wyn se prys, aan die ander hand, is iets wat ons wyn ten spyte van drink. Nou, dit is algemene kennis dat die agting van ’n geskenk direk eweredig is aan die persentasie van jou besteebare inkomste wat daarop spandeer is. Vat maar net trouringe as ’n voorbeeld. Tog, met wyn is daar ’n paar klousules, want die prys kan deur ander faktore beïnvloed word wat te breedvoerig is om nou te bespreek. En ons hoef net na ’n handjie vol sportspanne, insluitend Toulon, Royal Challengers Bangalore en Man City, te kyk om te sien dat geld selde langtermyn sukses kan koop. Wat mense soek is ’n underdog. ’n Perd met aantreklike odds. So wat moet jy doen? Kry ’n bottel waarvan jy hou. Een wat die werk van ’n 300-rand-se een vir baie minder doen sodat jy baie meer kan koop en nie hoef te maak asof jy die Franse eik waardeer terwyl julle dit drink nie. Al wat dan oorbly is om jou meisie te oortuig dat trouringe dieselfde werk.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s