Die Boys

Die Barrel Boys was nie altyd wat dit nou is nie. Daar was ‘n tyd wat dit net ‘n droom was, entoesiastiese praatjies na die 3de bier en, glo dit of nie, daar was ‘n tyd wat die boys nie die fynproewers was wie hulle vandag is nie. Daardie tyd is nie so lank, lank gelede nie. Dit was ‘n matige somersnag toe die Barrel Boys WK die eerste keer vergader het om die pallette van Suid-Afrika se beste en slegste Bordeaux blends met chirurgiese akkuraatheid te dissekteer. Daar was baie gesê, maar soos Naas Botha se analise van ‘n binne-senter se tackle tegniek moet dit eerder nie herhaal word nie. Dertien bottels later het elkeen na sy bed toe gestruikel met al die moed en motorvaardigheid van jou buurman wat net voor die 12-uur afsnytyd oor die Comrades marathon se wenstreep val. Tog was niks so welkom soos die volgende oggend se hoofpyn om jou te herinner dat dit nie net ‘n droom was nie.

Daai eerste aand het die standaard gestel en ‘n templaat geword vir baie aande wat sou, en wat nogsteeds sal, volg. Om jou ‘n beter idee te gee van wat die Barrel Boys is, kan ons begin deur te kyk na die tipiese maand-einde Donderdag van ‘n Barrel Boy…

Hierdie Donderdag begin gewoonlik ‘n week of twee of drie vroeër, wanneer die opkomende gasheer sy tema vir die aand bekendstel op dieselfde platform as wat die heersende Amerikaanse president sy belangrikste afkondigings maak, via sosiale media. Die tema vir die aand kan enigiets wees van ‘n enkel kultivar, wyn van ‘n spesifieke streek, ‘n tipe versnit tot wyne onder R50 vir die langer maande. In die dae wat volg word Pretoria se vernaamste wynkelders besoek vir ‘n bottel wyn waardig van die Barrel Boys. Nadat die Platter Guide, die etiket se aestetika en gewoonlik iemand van die Kaap gekonsulteer is word ‘n bottel gekies en gekoester teen ‘n perfekte 13-15°C vir die komende week of so. Dit is erger die tipiese Barrel Boy.

Soos die aand nader kom “begin die boys nip,” soos die Boys sal sê. Of sy wyn gaan wen, of eerder nie gaan verloor nie. Of sy strikdas die lyn tussen braaf en belaglik sal kan loop. Of daai meisie wat bekende vroulike figure op instagram quote sy foto gaan like. Dit is die eksistentiële vrae waarmee ons worstel.

Soos die dag verligting bring na ‘n lang nag, breek die aand uiteindelik aan. Eric Clapton speel saggies in die agtergrond terwyl die reuk van lasagne, geroosterde skaapskenkel of filet mignon stadig sy geregtige plek in die kamer opneem tussen die enkele Barrel Boys wat betyds is. Teen 7uur is dit ‘n heel ander storie en die geure van die hoofgereg, nou al vol en lywig, moet stoei vir posisie tussen die breë skouers van Abrie Swanepoel en Rikus Blomerus, want ‘n BB vergadering begin streng 7uur namiddag en al 13 man wil nader staan om na die Cellar Master aka AJ Hechter se gevleuede vernacular te luister.

Die wynproe is hoekom ons daar is. Elke ou se wyn word vooraf oopgemaak, in foelie toegedraai en, wanneer die cellar master vergeet het watse bottel watse bottel is (gewoonlik na die predrinks), genommer. Met die presisie van die vrou wat die polony in Checkers sny, weeg AJ Hechter 13 eweredige porsies uit ‘n halwe bottel van Wyn #1 uit en die sensoriese proses begin. Die wyn word geoordeel, bespreek, geprys, vermaan vir die manier hoe hy of sy lyk, ruik, proe en onthou word op die nasmaak. In die tasting is ons dalk geblind teen die bottels, die status van die plaas en die bias van die goed ontwerpde etiket, maar die bespreking is ten volle interaktief. Dis hoe ons bymekaar leer, en dis hoe ons almal litchi proe as een ou litchi proe. In die einde word die wyn, apart en onafhanklik, deur elke man ‘n punt uit 20 gegee, met halwe punte dalk snaaks aangekyk maar toelaatbaar. Hierdie proses word herhaal totdat elke wyn een keer deur elke BB geproe is, dan’s dit tyd om soos enige sportsman ‘n badkamer breek te vat en dit halftyd te noem.

Dit is dalk nodig om vooraf te sê dat hierdie halftyd nie soos ‘n standaard halftyd hanteer word nie, maar meer soos 2005 Shane Warne ‘n buffet by Lord’s sou hanteer. Halftyd is ook wanneer al die punte bymekaar getel en ‘n gemiddelde telling uitgewerk word vir elke wyn. Dit word gewoonlik oorgelaat aan ons hoofberekingmeester, Henlo Riekert. Die vergadering word weer na orde geroep en ons cellar master en hoofberekeningmeester neem dan leiding soos die aand opbou na sy klimaks, naamliks die aankondiging van die volgende vier weke se pecking order. Die wyne word in volgorde van laaste na eerste aangekondig, of eerder, ontbloot. Wanneer daai eerste (lees “laaste”) wyn se rokkie afgegly word is die manne se oë vasgenael op wat kom – as hulle moed genoeg het om te kyk. Nie almal kan die houtlepel vryspring nie en byna elke BB het al ‘n beurt gehad om sy saak ter versagting aan die jurie te stel. Soos die wyne een vir een hulle maskers afhaal, word die tweede helfte van die bottel weereens tussen die glase verdeel en sy trotse, of soms verleë, eienaar kry die kans om meer oor sy wyn se karakter en agtergrond te vertel. As die boys nog nie te luidrigtig is nie. Dit word herhaal totdat die podium vol is en ons Minister van Justisie, Gedeon Russouw, die houtlepel uitgedeel het.

Verrigtinge nader nou ‘n einde, maar voordat die manne kan verdaag word die aand eers op film vasgelê. Die wenner se glimlag is gewoonlik so breed dat die fish-eye lens van ons Sosiale Media konsultant, Francois Muller, se GoPro ingestel moet word, net voor die Boys terugkeer om môre weer hulle plek in die samelewing vir 8 tot 12 ure op te neem, en te begin dink aan volgende maand.

So wat beteken dit alles, en wat is die Barrel Boys dan? Ons weet nog nie presies nie, maar ons weet al amper wat ‘n goeie wyn is en ons weet hoe om hom te pair: met goeie vriende, goeie geselskap en ‘n goeie gees. En, soos ‘n daai goeie bottel wyn, glo ons hierdie ervaringe is beter as dit gedeel word en mag dalk net beter word met tyd.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s